And some kommentaar (Die Burger Briewe):
Kgalagadi is daar vir natuurbewaring
In die berig “Onmin broei oor fietsren in oorgrenspark” (DB, 31.10) sê die voorsitter van die Wesrand-afdeling van Sanparke dat hy “onkant gevang is deur die negatiewe reaksies” oor die voorgestelde fietstoer in die Kgalagadi-oorgrenspark. Kan jy dit glo?
Die park is ’n natuurpark wat daargestel is vir natuurbewaring en nie vir fietstoere nie. Daar is baie ander plekke vir diegene wat wil fietsry om hul sport te beoefen. Hoekom moet dit in ons nasionale parke beoefen word? Waar gaan dit eindig?
Dis g’n fietse wat Kgalagadi sinkplaat ry
Met die lees van die besware teen die fietswedren in die Kgalagadi (DB, 31.10) wonder ek of ek nie dalk ’n paar maande geslaap het en dat dit eintlik nou 1 April is nie.
Dit is darem nou so tipies van ’n groot deel van ons Suid-Afrikaners dat niemand anders iets gegun word nie.
My maggies, vergelyk ’n bietjie die skade aan die omgewing deur 50 fietsryers en helpers wat met fietse deur die park ry met die skade wat dieselfde getal mense in volgelaaide motors en sleepwaens aan die omgewing aanrig.
Dink net aan al die plastiek en glas en ander gemors wat in daardie volgelaaide yskaste en vrieskaste en kratte ingery word en van ontslae geraak moet word.
Kyk net hoe sinkplaat is die paaie gery. Deur fietse?
As ek ’n beswaarde was, sou ek versigtig wees om so op ’n omgewingimpakstudie aan te dring. Dit kan dalk net aanbeveel dat die park vir alle mense toegemaak moet word en aan die diere en plante oorgelaat word om te floreer.